I
Ek kan jou geslag kies
en die kleur van jou oë
sonder smeekbede aan 'n opperwese
Ek kan vir jou 'n naam gee
wat vir my mooi is
sonder kwelling oor 'n ouma se voorkeure
Ek kan vir jou 'n Makkem-bord
bestel uit Friesland
met dié naam daarop geverf
en dit hang teen die muur
van my verbeelding,
Droomkind
Ek hoef my nooit te erger aan 'n snotneusie nie:
die geboortedatum op die mooi blou bord meld
die jaar nul
II
Jy heet Marjolein, my versie:
Ek het altyd dogtertjies verkies;
seuns kan sulke rare dinge doen:
meteens dreigend 'n klip optel
as hulle langs die sypaadjie speel
en jy 'n vriendelike gesprek aanknoop.
Buitendien speel hulle eindeloos albaster
en skiet voëls met 'n rekker.
Ek sal jou die mossies brood laat voer
op die sypaadjie, Marjolein, hier in Holland
waar 'n mossie mus heet
en 'n mus weer muts.
Daarvan sal ek vir jou 'n wiegliedjie kan maak:
In de klimop slapen de mussen.
Ek sluit jou in met 'n refrein, my versie,
en jy weet nie hoe ik om jou loei nie:
Mus, mossie, muts, Marjolein.
III
Vergewe my die lewe wat ek aan jou gee;
my borste swel daar nie van nie
en die swaard was alleen maar deur my hart,
nooit in my skede nie:
ek het so dwaas liefgehad
dat ek weggekruip het in
luister na musiek
gedigte opsê
boeke lees
My liggaam soos die Sint Paulus-kerk in Antwerpen
waar hoere en homofiele rondgedwaal het
en met die brand selfloos en seksloos
kosbare kandelare en skilderye
gered het uit die vlamme
Hy kon jou wat ek so begeer het
nie uit my verlos nie
net maar die vers
wat brand soos 'n kandelaar
al het die kerk verbrand
Uit: Digby Vergenoeg, Human en Rousseau, Kaapstad. 1971
© 2000
Lina Spies / De Gekooide Roos
Over Lina Spies
Lina Spies is op 6 Maart 1939 op Harrismith in die Noordoos Vrystaat gebore waar sy die
middelbare skoolloopbaan deurloop. In 1958 begin sy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch
waar sy in 1963 haar Meestersgraad behaal met 'n skripsie oor Elisabeth Eybers. Vanaf 1968 tot
1970 studeer sy aan die Vrije Universiteit (Amsterdam) in die Nederlandse Taal- en Letterkunde.
Haar doktorale skripsie het gehandel oor Nijhoff se sonnettesiklus Voor dag en dauw. In
Maart 1982 promoveer sy aan die Universiteit van Pretoria op 'n proefskrif oor D.J. Opperman.
Lina Spies het gedoseer aan die Universiteit van Port Elizabeth, die
Universiteit van Stellenbosch en die Universiteit van Pretoria. Vanaf
1987 tot 1999 was zij professor aan die Universiteit van Stellenbosch in
die Afrikaanse en Nederlandse Letterkunde.
Uit haar pen het sewe digbundels verskyn: Digby Vergenoeg (1971),
Winterhawe (1973), Dagreis (1976), Oorstaanson (1982),
Van Sjofar tot sjalom (1987),Hiermaals (1992) en Die skaduwee
van die son (1998). Vir Digby Vergenoeg het sy die Eugène
Marais-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en
die Ingrid Jonker prys gekry.