Wat is ons, h’n? Ons is lag.
Ons is mombakkies gesmeer.
Vleg deur dis ons, ritteltittelend
straat af en Bo-Kaap toe,
satynwurm met hande wat wuif,
sambreeltjies wat hop. Dis Tweede
Nuwejaar en dis een dag lank.
Kortstap. Swaaistap. Wat is ons?
Ons is seerkry gister gebêre. Geduld
wat spot met spot en geduld,
dis ons. Kyk na so die pienk en die blou
en die geel, die strepe en die kolle en die een
met sy hondjie en die een met sy seuntjie.
Wat is ons?
© 2000
Wilma Stockenström / De Gekooide Roos