Marius Titus Luister
Hoor jy klokkies lui en speke sing
as fietsers liries ’n klokkespel bring ?
Voel saam die nuanses wat sinchroniseer,
hoe flenterakkoorde die fietsverkeer
laat vloei en meng met skril soprane
wat ry op edelbas rooi bane.
Hoor jy harmonie in kontrapunt,
’n metaalkeel wat roggel in die wind ?
In Leiden beiaard ’n gedagte
heimwee langs musiek en gragte
huiswaarts.Die roeping in my agterkop
wek repertoires in my op.
Werk toe, huistoe of sommer net ry,
so fiets die ryers alkant verby.

Over Marius Titus

Marius Titus (1946), het in Stellenbosch grootgeword. Van sy eerste gedigte is gepubliseer deur Patrick Petersen van Prog Uitgewers, in wat hy 'n saamry-bundel noem, met die naam Aankoms uit die skemer (1990). Daarna volg Oop gemoed (1990), Dwangherfs (1994) en Genesing uit vuil water (1998). Van sy werk is ook opgeneem in die bundel oor Suid-Afrikaanse digters wat deur Komrij uitgegee is. Volgens Titus skryf hy oor die gebeure in Suid-Afrika soos wat dit hom raak en verwoord hy dit as persoonlike belewenis. Hy glo "menseregte is 'n newe-produk van regte mense".
Meer over Marius Titus op wikipedia