Marius Titus Net een
Tussen elke reghoek grond
lê strepe gragte blink
en lynig in die son.
Spontaan roep ek die Kalahari op
waar droogtes duinig knaag
aan sonwit bene,
waar winde die milieu oornag verskuif.
Geen duine tussen meule
van die platland,
geen heuwels steur
die watervertes in my sig.
Een berg vir honderd gragte,
een berg vir landsprofiel,
een vir my siel in Nederland.

Over Marius Titus

Marius Titus (1946), het in Stellenbosch grootgeword. Van sy eerste gedigte is gepubliseer deur Patrick Petersen van Prog Uitgewers, in wat hy 'n saamry-bundel noem, met die naam Aankoms uit die skemer (1990). Daarna volg Oop gemoed (1990), Dwangherfs (1994) en Genesing uit vuil water (1998). Van sy werk is ook opgeneem in die bundel oor Suid-Afrikaanse digters wat deur Komrij uitgegee is. Volgens Titus skryf hy oor die gebeure in Suid-Afrika soos wat dit hom raak en verwoord hy dit as persoonlike belewenis. Hy glo "menseregte is 'n newe-produk van regte mense".
Meer over Marius Titus op wikipedia