Daniël Hugo Idille
God is uit op sy aandwandeling.
’n Swoel bries laat die blare roer
van die appel en die vy.
’n Eekhoring kir, ’n tortel koer.
Dit is in die tyd voor seisoene
en al die bome nog immergroen.
Maar sonder die Tuinier se medewete
het die vy reeds ’n paar blare
verloor: die seisoene het begin
met ’n eerste, senuagtige soen.
Eva, waar is jy ? roep God.
(Hy is jouwaarlikwaar jaloers.)
Maar die twee soeners is doof
want die Eerste Rivier se water druis.
Elke keer as jy kaal by my lê, my lief
hoor ons ’n sug uit die Paradys.

Over Daniël Hugo

Daniel Hugo is ’n spesialis omroeper by Radiosondergrense en verantwoordelik vir die weeklise letterkundige programme Vers en klank en Leeskring. Hy maak ook gereeld dokumentêre programme oor Afrikaanse skrywers. Vir dié programme is hy al twee keer met Artes’e en vier keer met ATKV-toekennings bekroon, asook met die Akademieprys vir hoorbeelde.
Daniel Johannes Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Hy ontvang sy skoolopleiding in Windhoek en behaal die graad B.A. Honneurs (Afrikaans en Nederlands) aan die Universiteit van Stellenbosch. Op Stellenbosch was hy ’n lid van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium. In 1979 hou hy ’n jaar lank skool in Windhoek en in dieselfde jaar verwerf hy ’n M.A.-graad van die Universiteit van Pretoria oor die poësie van D.J. Opperman. Vanaf 1980 tot 1988 is hy ’n lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. In 1983 studeer hy aan die Katholieke Universiteit Leuven in België. In 1989 word ’n D.Litt. aan hom toegeken vir ’n proefskrif oor die vernufpoësie in Afrikaans. Vanaf Oktober 1988 is hy verbonde aan die SAUK in Kaapstad.
Daniel Hugo is die skrywer van ’n hele aantal digbundels: die jongste is Skeurkalender van 1998. Hy is ook die samesteller van etlike bloemlesings. Verder doen hy vertaalwerk vanuit Engels en Nederlands. Sy vertaling van Harry Mulisch se roman De aanslag verskyn later vanjaar.
Daniel Hugo is geskei en het ’n seun wat in Bloemfontein woon. Sedert 1995 is hy die sameroeper van die Ingrid Jonker Prysfonds. Een van die hoogtepunte van sy omroepersloopbaan was ’n besoek aan Israel waar hy ’n dokumentêre program oor die digteres Olga Kirsch gaan maak het.
(Informatie en foto overgenomen van Daniel Hugo's uitgever: Tafelberg)

Bekijk ook: ’n Videogesprek met Daniel Hugo