Dit sal bewolk wees. Donderstorms
mag voorkom in die namiddag. Vreugde
sal kaggelhoog staan
in voorkamers. Dit sal sneeu. Jy sal my sien-
deur die reën sal ek na jou kom.
Die wind sal suid tot suidwes ontknoop. Skepe
sal vergaan. Dit sal bewolk wees.
Elders mooiweer en soms
warm. Uit alle windrigtings van die son
sal ek na jou kom. Daar sal gedans word.
Twee-twee ingebed by die gloed
van die liefde.
Dit sal reën, deurnag. In my hande
sal ’n reënboog wees.
Mooiweer en sonskyn
oraloor.
© 1999
Louis Esterhuizen / De Gekooide Roos