Daardie week was daar verskeie berigte oor vlieënde
pierings,
en auroras uit die onsigbare heelal.
Ek het in my motor gery, verby 'n ongewone
kerkritueel,
terwyl reën neersis op die skerwe van 'n skemer.
Die mans het sluiers gedra, buiten vir twee wat
inwyding ondergaan
en die klein koortjie verrukte vroue aan die kant
van die pad.
Die sekte was aan my onbekend, 'n vreemde mengsel
van Afrika en die Weste.
Die gemaskerde mans het die swetende en huilende
nuwelinge
driftig aangepor in die rigting van die altaar, en
die nuwe lewe wat op hul wag
Hulle het soos nat eende gewaggel, blind met
begeestering, vooruit
die veld in en biddend op hul kniëe neergeval. Twee
skote het weerklink.
Ek het pas 'n motorkaping aanskou, en die summiere
teregstelling.
Hoe moes ek weet, daar is skaars 'n pad wat iewers
gaan,
wat nie ook in die teenoorgestelde rigting loop
nie.
Miskien het dit te doen met hoe 'n mens waarneem.
Daar is diegene wat glo vliëende pierings is
visioene van die toekoms
of 'n hoogs ontwikkelde beskawing uit die verre
verlede.
Beskou byvoorbeeld die storie van die twee
bruide.
Daar is die stadige bruid. 'n Enkele gebaar van
haar kan drie geslagte neem.
Haar rok waai nie in wind nie, dis uitgedruk in
metaal.
Soos ek op my bed lê, sien ek hoe bult haar kant in
die staal plafon bo my.
En die vinnige bruid, ter plaatse uit die pakkie,
nat voor die seremonie eindig.
Sy het 'n lang wit sleep en die nederige naam
toiletpapier.
Miskien word alles bepaal deur ons siening van
tyd.
En as enigiemand meen ek was 'n swak getuie, dink
maar aan besnyding
of die offerande van maagde. Die vinnige hand en
die stadige hand, van God.
Ja, ek kon seker meer hulpvaardig gewees het met
die ondersoek.
Ja, ek is bly om nog lewend te wees.
Maar om verby te gery het in 'n tyd van
toekomsvisioene,
aan die regte kant van die pad, duskant die morele
streep,
was om aan hulle onsigbaar te wees. Ek het
eenvoudig nog nie bestaan nie.
Dit gedicht was onderdeel van een tijdens
Poetry International 2000
georganiseerd ‘vertaalproject’, waarin verschillende Nederlandstalige
auteurs een aantal gedichten van
Charl-Pierre Naudé
uit het Afrikaans vertaalden. De gedichten en hun vertalingen verschenen in
december 2000 in literair tijdschrift
Tirade.
De vertaling door Willem van Toorn
© 2001
Charl-Pierre Naudé / De Gekooide Roos