Want jou soene is ’n deur
met ’n tikkie tongskuif en slot
en jy kamer oop in my
En ek sien die holtes van rus
die gedekte smul en hier is ek tuis
want jou soene is ’n deur
Waaragter kraffies kortasem
kreun en die kaggel nagdeur hitte gee
en jy kamer oop in my
En ek betree die liefdestapyt
die fluweelwarmte van jou huis
want jou soene is ’n deur
En ek streel vreugde se binnevoue
en jy skink vir my die teerste geluid
want jy is ’n kamer en jou mond
’n deur vir die aankoms
uit koue
© 1999
Louis Esterhuizen / De Gekooide Roos