Die raamwerk van ou verhale,
dié wat kwansuis kontoere kon beskryf,
het oud en dof en voosgevat
oor die einders van die onvanpas-
gemaakte landskap weggedryf.
Toe was daar eensaamheid en spyt
in ’n wêreld van verwaterde
vertellings en opgeefsels
vir ’n toekomstige tyd.
Nou is daar nuwe storiemeesters aan die werk,
wat berge skuif, wat nuwe paaie maak
en sê waar die rivier mag loop
oor die velde van die pas-
gemaakte landskap tot ’n park gepraat.
Daar is groot bome wat brand kan weerstaan,
maar klein en onbekende blomme sterf
selfs voordat stof op hul vergader.
Al is daar woude woorde oor die velde
en ook oor die berg se kruin,
kruip daar nuwe skroeisels nader
vir dié wat in die onvermoede stiltes verder lewe
in hierdie al hoe stowweriger tuin.
Die uurglas staan daar yl en wit
in die winterbrand van die bestek:
die kaart is nimmer skoon
en niemand is hier onbevlek
waar al die horisonne donker lê
om ou en nuwe land
in daardie smal strook tyd,
kortgeknip
in ewigheid
en in oneindigheid:
die sand skuif suisloos in die glaslyf af:
een korrel weet skaars dat hy roer
totdat hy huiwer by die slanke nek,
teen glas glad gly en deur die gorrel glip:
die boonste kelk is nimmer leeg
waar daardie dun nek knak,
daar waar die houvas onherroeplik losruk,
die korrels rooi en harig uiteenspat.
© 2001
Heilna Duplooy / De Gekooide Roos