Vir jou
sal ek onthou,
my meisie,
as die woorde my wankelend verlaat
en die syfers my seniel systap,
as die beelde om my dof en dynserig
verder weg begin tuimel,
sal ek jou
steeds onthou,
my meisie,
my bang-bang vinger-vat aan jou broos borste
die tenger teer knoppies van jou tepels teen
my nat palms,
ons hande huiwerig in die donker na mekaar,
ons vingers vleg & vou soos vlamme ineen,
ek prewel-proe aan jou tong,
ek verken die landskap van jou lyf,
ek wandel langs die lang kronkels
van jou liefde se lanings,
ek ken al die kortpaaie na jou hart se binnekamer,
ek kuier in die koggel-koeltes van jou oë,
snags sproet-spook jou gesig my drome vol,
jy klop aan die vensters van my hart,
jy huiwer in die holtes van my herinneringe,
jy gly deur die gange van my gedagtes,
en die woorde wat ek ‘n leeftyd lank te bang was om te sê,
kan ek nou uiteindelik net vir jou sê:
ek is lief vir jou.
© 1999
Clinton V. du Plessis / De Gekooide Roos