Laasnag het ek gedroom dat ek weer in 1975
woon, die jaar toe ek laas gelukkig was. Toe
het ek afgekom by die trap & vir my water
getap in die kombuis dit was so stil in die huis.
Die mooiste jare is verby. Anyway, & toe het ek
gedroom dat ek in ’n jaar so ver as moontlik
van 1998 af gaan woon.
Laasjaar het ek gedroom dat ek weer in my eie
mooiste woorde woon in my mooiste dorp &
en dat ek weer gesond begin te word. Toe het ek
wakkergeskrik & iets was nie pluis nie en ek was
so lost ek was nie in my eie huis nie. Die
mooiste woorde is verby. Anyway & toe het ek
gedroom dat ek in ’n taal so ver as moontlik
van Afrikaans af kan gaan woon.
In my boyhood het ek ’n meisie gehad sy was
beautiful beyond Afrikaans sy kon heelnag my
so hartseer dans & sy was somehow Gert se
laaste stance. En toe het sy gedroom dat sy
in ’n lyf so ver as moontlik van my lyf af
gaan woon. Die mooiste liefde is verby.
Anyway, & toe het ek gedroom dat ek by
haar lyf so ver as moontlik van my lyf af
gaan woon.
Somewhere het ek gedroom dat ek my eie
begrafnis bywoon & Pa was daar & Ma was
daar & al my geliefdes soos in my gelukkigste
jaar. Maar die mooiste was dit die mooiste
was dit dit was dat ek afgebuk het na die
grond & myself gesoen het op my eie mond.
Die mooiste drome is verby. Anyway, & toe
het ek gedroom dat ek in ’n droom so ver as
moontlik van hier & nou af kan gaan woon.
Laasnag het ek gedroom dat ek weer in
1975 woon, die jaar toe ek laas gelukkig
was. Toe het ek afgekom by die trap & vir my
water getap in die kombuis dit was so stil in
die huis. Die mooiste jare is verby. Anyway,
& toe het ek gedroom dat ek in ’n land so ver
as moontlik van Suid-Afrika af gaan woon.
& toe het ek gedroom dat ek in ’n land so ver
as moontlik van Suid-Afrika gaan woon.
© 2001
Gert Vlok Nel / De Gekooide Roos