Die huursoldaat het in vele oorloë in Afrika geveg
en was by wyse van spreke goed toegerus
om dieselfde storie van meer as een kant te vertel.
Soos sommige digters kan ’n mens sê (metafories gesproke).
‘Dit was einde van die reënseisoen in Mosambiek,’
vertel hy op die hoë plato waar hy nou veediewe jag.
‘Bleek gordyne water het nog af en toe oral uitgeval;
’n besonder vernietigende fase van die oorlog pas afgeloop.
Sagte rompe, van die uitgewisde bos en ook van mense,
het in die klam grond en die moeraslande gelê en gis.
Ek was op roetine patrollie in ’n verlate gebied
toe ons op hierdie eensame figuur langs die pad afkom.
Hy was baie haastig en vasbeslote op pad iewers heen,
het sy hande liggies voor sy gesig geskommel
en elke dan en wan in sy handpalms geblaas.
Tog was dit nie juis ’n koue tyd van die jaar nie.
Dit het meer gelyk of hy met ’n dobbelsteentjie speel
om die tyd te verwyl op ’n baie lang sending.
Toe ons hom verby ry lyk dit of hy by homself mompel -
en skielik val hy op sy knieë, salig onbewus van enige ander mense.
Die oorlog het vele vreemde vorms van waansin geskep ...
’n Oomblik later staan hy op en loop verder, selfs meer vasbeslote as eers
net om ’n entjie aan weer op sy kniee te sak, in die verte, toe ek terugkyk.
Een van die ouens in die pantservoertuig het haastig die kruisteken
oor sy bors geslaan in aanskoue van die vurige Ave Marias.
Die wyses waarop ’n mens sy bestemming kan bereik is bra beperk ...
Twee dae later op die pad terug ry ons hom weer verby
etlike honderd kilometer noord van die eerste ontmoeting.
Ek het gewonder van hoe ver suid hy gekom het.
En met wie gesels hy so knaend en so liefdevol
in die oopvou-spiëeltjie van sy hande? Sy eerste liefling?
Soveel mense het in daardie oorlog al hul geliefdes verloor.
Ek onthou hom vassteek in sy spore, om die lug in sy palms te wieg,
miskien ’n klein diertjie dog ek ’n marmotjie, eers in sy kruis
en toe in ’n oksel te koester, teen ’n skielike opwaai van die bries.
Ek het nader gestaan, na hom geloop waar hy hurk
langs die kruispad. Amper daar, amper daar, hoor ek hom fluister
in sy bakgemaakte hande. Ek maak so bietjie uit van sy taal.
Hy’t skoon bang gelyk toe hy sien ek staan langs hom.
Die locals vermy soldate en praat nie eintlik met hulle nie.
Die ander het in die pantserkar gebly, op ’n afstand vir die malle gegrinnik.
Toe vra ek hom om my te wys wat hy daar vashou.
En hy steek sy geëelte palms huiwerig uit. Met ’n lewende kooltjie in:
die verwoeste dorpie wat sy tuiste was het nie vuur gehad nie
en hý was gekies om die vierhonderd kilometers te loop om dit te gaan haal.
Hy het koeëls getroef en sy lewe gewaag om die gevlerkte vlamkuiken
van ’n ingestorte kroonlys af te skep in ’n pas gebombardeerde kerk.
Snags sou hy rus, ’n vuurtjie maak; die môre weer verder
met die skinkbord vol brandende kole op ’n sinkplaat,
om die aand weer die reisskof te eindig met ’n enkele kooltjie wat hy aanblaas.
Dit het hy my vertel, vreesbevange en in ’n biegtoon
met ’n verslane uitdrukking in sy oë asof ek ’n militere ondervraer is.
En ek kon my hom voorstel hoe hy half-wakker slaap, opgekrul
langs sy ademende klein toevertroueling, in haar windsels eie gloed,
heeltemal verlief op die ligte vraggie beentjies in haar toornige nagrokkie.
Ek het die man voorspoed toegewens, en sy skouer ’n drukkie gegee
terwyl hy weer in sy hande blaas, die wieke instoot onder
sy klein godin, die kosbare troeteldier: Prometeus se Vuur.’
zie ook de
Engelstalige versie
© 2001
Charl-Pierre Naudé / De Gekooide Roos