Die landskap tussen gedig en gedig
lê verbeeldingsvlak verskuil
agter ’n newelige misgordyn
en ek sien myself telkens staan in monnikbruin
met oë op die Nuwe Plek gerig
nano-sekondes voor ek skimbedrewe
déúr tree –
blind met ’n vérsiende vetroue
in wat my woorde daar sal vind.
Ek sien my brein met lang bleek vingers
suis deur die yl dimensielug
om te gaan streel oor die sielskildery
wat hom blootlê in duiselafgrond of hoë brug.
Enige oomblik nou sal die silwer arend kom
en my borskas kragtig oopskeur;
sal my bloedhart taai oor die uitsig kruip
om soos ’n jong dier te nestel
in die harsinghande wat nerf-rou
’n moedervlies werend daarom vou.
Organe sal in dubbelrites paar:
’n vuurbol baar wat in astro-lig
spiraal tot binne-in die nuwe gedig.
© 2002
René Bohnen / De Gekooide Roos
Over René Bohnen
René Bohnen (1958). Debuteer in Oktober 2000 met die bundel spoorsny. Die bundel word gunstig ontvang en kry positiewe resensies in die Beeld en in Die Volksblad. 'n Persoonlike onderhoud met die digter verskyn ook in Plus, 'n bylaag tot Beeld. Daniël Hugo wy die radioprogram Vers en Klank (RSG) op 13 Februarie 2001 aan gedigte uit spoorsny. In Oktober 2001 neem sy by die Aardklop Kunstefees deel aan die Bekgevegte/Poetry Slam tydens drie vertonings en beskou dit as warm kompliment en lewendige manier om poësie by die gehoor uit te bring.
Losstaande gedigte het ook verskyn in: Tydskrif vir Letterkunde, Karapaks, Honderd Dichters 3, Crossroads of the Century, Electric Juice, asook op Litnet en Poetry.com.
René Bohnen is gebore in Estcourt, Natal, waar sy matrikuleer aan die Hoërskool Estcourt. Voltooi daarna B.A. Hons. (Engels). Werk as navorser by die Departement Engels (
University of the Free State) in 1981 en 1982 aan 'n bibliografie oor African Writers in English. Werk daarna vir bykans 20 jaar aan syfers, administrasie en wetenskapverwante sleurtake, wat verlig word deur nagtelike omgang met vers, met woord; met die bepeinsing oor lewe, oor dood.