Charl-Pierre Naudé ’n Klein bietjie afstand
Ek kyk na die foto in die koerant.
’n Vrou in ’n geblomde rok kry ’n toekenning
van Mandela, van die eerste president homself
vir baanbrekerswerk in Vigs-navorsing
en haar ywer om die lewens van duisende,
selfs miljoene, moeders en kinders te probeer red.
Sy slaan ’n imposante figuur, en help sonder twyfel
om sirkulasiesyfers vandag op te stoot.
As die berig vertrou kan word is sy die soort vrou
wat enige iemand graag sou wou ontmoet.
Net gister het ek haar lughawe toe geneem.
En nou hiérdie eenrigting afstand-kommunikasie;
deur die verkeerde kant van die teleskoop.
Oor die foon vertel sy my dat sy aan my
gedink het tydens die glansgeleentheid.
(Vermoedelik net kort te vore, of direk
weer daarna.) Maar ja, dankie my skat.
So uiteindelik bevind ek my so ook
in die nabyheid van die groot man.
’n Klein ’n bietjie afstand, het ons gesê.
Wat ons nodig het, is ’n klein bietjie afstand.
Aangename kennis, Meneer die President.
Geen probleem, ons kan gesels. Ja, ek het daardie rok gekies.
As dit nie vir my was nie het sy die ander een gekoop.
Maar meer belangrik, ek het dít gekies wat onder is.
Daar is so baie in hierdie land wat steeds bedek word.
Ons geskiedenis, waar ons vandaan kom. Hierdie pragtige vrou.
Ondanks moedige pogings deur mense soos uself.
(Ek behoort nie so kaalkop met ’n belangrike man te praat nie.
Maar dis wat hulle gesê het in die donker jare, ook.
Dis nou die tyd vir volstrekte openheid.)
Daardie rok is goed vir niks nie, Mnr. President.
Dis suiwer propaganda uit die vorige era.
’n Geverfde waarheid, die afdruk van ’n dieretuin
waarin die voëls nie vlieg en die tiere nie streep nie.
’n Hok waarin die kinders van haar vroueskap
oneindige briewe skryf wat nooit arriveer nie.
Ons moet nóu die Kongo oerwoud bevry
wat klop in die poskantoorseëls.
Is ons nie dan ’n bevryde land nie?
Sy moes u naak ontmoet het.
’n Groot man soos uself
verdien g’n aks minder eerlikheid nie.
Sy moes toegelaat gewees het om kaalbas te loop,
haar asemhaling wat rys en val in antisipasie
van u ontmoet so in haar diva suurdeeg,
as ons Grondwet enige iets werd is.
Inderdaad, ek sien op hierdie einste
oomblik hoe sy pronk na die podium.
Ek sien haar soontoe loop, uitgevat in al haar vryheid.
En oral in die kunswinkels ontsnap
die ongebore papegaaie uit hul toegedraaide palette.
Haar kontoere wat dy en sak, soos die kieue van ’n vis.
En die gemeente wat hande klap terwyl al
wat dooshoed is afwaai. Hul snorre gesteel, hul jasse
aan mekaar gestik: een nasie, een seekat.
Katswink geskok. En sy tree uit haar skulp.
Hare kort gesny. Die hand nie waar
dit moet wees nie. Botticelli skarrel nader om toe te hou!
Wat my laat dink Meneer President, wat my laat dink.
Sy doen dieselfde in haar slaapkamer wanneer sy
soos ’n woud uit die gevangenskap van klere geloop kom.
Die twee eenoog-nagapies wat hoog op teen haar bas kleef.
(Arme Greenpeace, nooit nêrens wanneer dit regtig saak maak.)
Hoe gaan lê daardie syluislang nie om af te wurg
aan haar vaalhaar-dassie wat nóóit ophou spartel teen die slukke nie.
Die glinsterende luislang ook, wat bult teen die net;
en die net se rekbare raket op sy beurt
wat daardie uitsittende en inkrimpende
skubbe-patroon na-aap.
Die hele Heelal na-aap.
Die Oog van God.
Ruimte en Tyd.
Almal kop in een mus!
Vryheid. Soete, soete gevangenskap.
En sy wat daar so kwesbaar staan
(sy lyk dit nie maar ek weet sy is),
haar enigste skild uiteindelik
sal daardie Prys wees, Meneer.
Ieder en almal se enigste skild. Die Liefde.
Sy hou dit daar. En agter pols
haar geslag soos ’n vreesbevange mot
terwyl sy vol selfvertroue vir die kameras glimlag.
So as dit nie te laat is nie,
sê vir haar om na my toe terug te kom.
U is ’n man van woorde,
Meneer die voormalige President.
Ek is bly u kan haar nou sien
soos sy deur almal behoort gesien te word.
U kan self sien wat die naakte waarheid
oor hierdie goeie vrou is:
sy is eenvoudig absoluut pragtig.
Só menslik, en óók ’n bedreigde spesie.
Te hel met die wêreld. En al sy goeie werke.
Ek mis haar vanaand. Te hel met al die kinders ook.
(Skuus, ek bedoel dit nie rêrig nie.)
Ek is die enigste kind wat bestaan.
Is dít nie die definisie van ’n kind nie?
’n Klein bietjie afstand.
Dis wat ons nodig het,
het ons gesê.
Maar hoe groei ’n bietjie afstand nie!
Daar staan
’n baster-moerbeiboom in die agtertuin.
Ek hoor hoe bars die vruggies
onder my kaal voete
soos ek onder deur stap
op pad terug na die huis.
Ek klim in die bed, en besmeer die lakens.
Môre is sy weer terug in die stad.
NB: VIGS is de Afrikaanse afkorting van AIDS
Zie ook de Engelstalige bewerking door de auteur
A little distance

Over Charl-Pierre Naudé

Charl-Pierre Naude is 'n joernalis, skrywer en digter van Johannesburg, Suid-Afrika.
Charl-Pierre Naude is journalist, schrijver en dichter uit Johannesburg, Zuid-Afrika.