(die gedugte gang van tyd en lig in ’n gedig)
Dat ek ’n eland kon wees
met geeste wat borrel in die murg
van die snaarstring deur my rug
(die gedugte gang van tyd en lig in ’n gedig)
Dat ek ’n eland kon wees
met geeste wat borrel in die murg
van die snaarstring deur my rug
om uit te bars in sterre om my kop
dat liedere soos bloed
uit my neus en kleurpotte loop
Dat geeste kook in my kerne,
ek sirkels binne sirkels
’n elandbul dans,
terug keer om uit ’n vetkalbas
my klei-gesigte op klip te verf,
te rooi, te bruin en wit -
dít
het in die aandlug
stil
mot in my derms kom sit
***
Dat ek die groot verseboek oop kan slaan,
op bladsy vyf een vyf
’n eland fyn gelyn, geteken kry,
neergeskryf in ander wonderwoorde
(wie is sjaman en wie die gek;
by die laaste aandvuurmaal
watter ligkol wie se plek)
Dat ek woorde soos gekraakte testamente oop kan vou,
digters skarrelend soos miere tussen erfgoed ontdek,
die evolusie dop kan hou soos ’n sinkende geheue;
voor my in die takelwerk lê visse afgeskub, gevlek,
uitgestalde grieke, gote, keisers, boere en voorvadergode
Dat daar steeds niks nuuts is onder die son nie
en straks geen son in die nuwe nie,
dat alle woorde see toe spoel in slyk en somervloed,
elke vers se voorhangsels finaal in twee geskeur
sal word soos himens in ’n inkblou nanaggloed
Rituele naelstring, lewer, niere, voorhuidsakkie van gedig
en álles -
dít
het ek langs ’n skurwe rotsskets
in die dag se swartsak-afval neergesit
***
dat ek dan maar:
’n springbok kan wees in die hartland,
’n otter, of kormorant, buffel, ’n waterdier;
enigiets,
’n elandbul -
dít
het wreedmooi
uit etter-ys en formalien
onuitwisbaar virussterk
in my bloed begin ontdooi
***
Dat ek wit kan wees en okerbruin
in poeierstof op kwarts of perkament
Dat ek lugblou kan wees bo ’n kamberggrot,
’n dassie in amfiteaters rots
of helderwater tussen lang soet gras
en die hele plek is Gods
Dat alles fisika kan word
en alle bokke stof-
Dít.om uit te bars in sterre om my kop

Dít.
© 2002
René Bohnen / De Gekooide Roos