die tyd is naby
en dit gaan binnekort gebeur
dat ek nie meer gaan kak vat
van kabouters nie;
al moet ek my land verlaat,
die planeet verlaat
iewers anders vestig
onder ’n vals naam
met ’n gekoopte paspoort —
mnr zilberstein
van siberië,
jannie lambda
van pluto-wes -
ek kan kabouters nie meer verduur nie!
die klik-klak van hulle hoë hakke
oor die novilon
van poskantoorvloere!
hulle sedige rooi oë! hulle kabouter-resepte!
hulle geskinder oor ander kabouters!
dit moet nou end kry.
ek besef terdeë
dat daar mense is wat sê
ek is opperhoof van die kabouters —
hulle beweer ek het kabouters uitgevind —
maar tussen ons gesê,
dis nie waar nie.
voor julle julle oë uitvryf
is ek woonagtig in ’n plek
waar geen kabouters is nie.
(dalk skandinawië?)
en daar sal ek vir die res van my dae
rustig kan seëls versamel,
inteken op motortydskrifte,
muurbal speel
teen mense met name soos josef en andreas -
met geen kabouters in sig nie!
en niemand sal my herkoms kan raai nie
niemand sal weet ek is van kabouterland nie
my cv sal blank en priem lyk
op toonbanke van nuwe werkgewers
kyk, die nuwe
kaboutervrye ek!
so ontspanne! so bedaard!
so ’n
splinternuwe
kabouter!
© 2002
Koos A. Kombuis / De Gekooide Roos
Over Koos A. Kombuis
Koos Kombuis zegt er dit van:
“Van my geboorte kan ek nie veel onthou nie. Ek weet wel dat dit gebeur het kort voor teetyd op
5 November 1954 in ’n kraaminrigting in Duiwelspiek, Kaapstad. André le Roux du Toit is ek gedoop,
maar op skool reeds het ek die bynaam Koos gekry”. (Maar hy het ook al geskryf as André Letoit -
volgens hom ‘n anagram vir toilet).
Van sy geboorte tot waar hy nou is: —
“Nou woon ek in ’n nice huis, met ’n dak wat lek, by die see, ek ry ’n Nissan
Sentra, en ek het ook ’n vrou, ’n baby, ‘n grassnyer, ’n weed-eater, en M-Net (ek spaar nog vir
DSTV). My ma, wat nog leef (my pa is onlangs oorlede), is baie trots op my!”
Was ’n lang pad, waarvan hy in sy outobiografie Seks en Drugs en
Boeremusiek (Human en Rousseau) vertel.
Behalwe 7 CD’s verskyn deur die jare ook nog verskeie ander boeke van hom, onder andere sy
digbundel, Die Tweede Reën; en ’n boek in Engels, Paradise Redecorated.