Joan Hambidge Programgedig
Die swaels staan op trek:
die siele van dooies,
geluidloos vertrek hulle
van suid na noord,
vertikaal en glo hemelwaarts,
na ’n onbekende, ongekaarte plek,
’n regio waarvan die spiritiste se
die dooies hul eie oordeel vel;
die selfmoordenaars en vermoordes
stadig, indien ooit, tot rus kom.
Heldersiendes kan hul oproep;
begenadigdes kan hul dolende siele
in ou afgeleefde huise voel
soos vasgekeerde swaels in ’n lughawegebou
fladderend, soekend na ’n laaste uitgang
verblind deur toegewasemde ruite
angstig oor die onbekende ruimte
hul vasvang en nie wil loslaat
op hierdie verpligte reis sonder paspoort
of geendoseerde, spesiale visum,
handbagasie of swaar, oorvol tas.
Ook jong gevoeliges kan hulle sien:
dek selfs ’n ekstra plek aan tafel
vir die verbeelde, dolende maat;
’n gesant van die onbereikbare anderkant
troos ’n lydende in die verband.
Mediums vertaal die o so graag-gehoorde
boodskap aan ’n skuldbelade familielid.
En ons? Die agtergeblewenes? Die roubeklaers?
Die erfgename van stil, onontsyferbare poskaarte?
Hul laat ons verward agter met saad
wat ons wou voer, met gedroogde krummels
van verwyt, van ek wou-nog-se, regmaak:
afgesluit van die geheimsinnige winterreis.
Uit: Lykdigte (uitg. Tafelberg, Kaapstad, 2000).

Over Joan Hambidge

Joan Hambidge is digter, romanskrywer, kritikus en teoretikus en verbonde aan die Universiteit van Kaapstad. Sy het 16 bundels op haar naam waarvan die jongste Ruggespraak vanjaar by Protea-huis in Pretoria verskyn. Sy het al die Eugene Marais-, Litera- en Poetry Institute of Africa-pryse verower. Sy is mede-professor in die Afrikaanse letterkunde en bied kursusse in kultuurstudies aan. ’n Vertaling van haar verse “The Coroner's Wife” word in die vooruitsig gestel.
Joan Hambidge op Wikipedia