Oor die misverstane woord
is daar nooit weer ’n gedig te skryf nie.
-I-
Dit begin met die wekker
wat te vroeg lui
die Katolieke nonne se gebede
en die oggendverkeer wat steur
die koerant wat vir die hoeveelste-soveelste keer
die nuus van ’n brutale moord dra.
Daar is geen woord so leeg
soos die digterswoord. Die digtende woord wat hierdie tristesse
moet uitblaker. Kyk, ek kan nie meer sonnette oor die liefde
of eensaamheid maak nie. Elke rymende aabb-kwatryn oor breekbare borde
klink so bourgeois - soos ’n Boergondiese restaurant in die hart van
my stad.
-II-
Ek reis oor die rymende Franse gebergtes
waar die stilte antwoord gee. Die stilte
van skryf. Vroeer had ek meer krag, my lief.
Kon ek ’n vers gaan haal soos ’n diepseeduiker
in die Fillipyne ’n bungy jumper by die Grand Canyon
of ’n perelvisser in Japan.
Toe kon ek doof word van ’n gedig se woordelose asemhaal,
my verlustig aan opstandige ryme, die ritmes se sloerstakings
soos ontevrede werkers. Ek kon woorde maak
en veral breek. In Amsterdam lui ’n kerkklok
die afskeid aan ’n vroeer verbintenis wat ek tydsaam, wanhopig
in breekbare verse kon stulp.
-III-
Vandag treur ek oor jou en my. Oor ons liefde
ons nie beskerm teen hierdie geweld van woorde nie.
Dat die groter onrus ons ook aanval.
Laat ons altyd ons woorde een vir een omdraai
soos ’n suinige penningmeester die kerk se kollekte tel,
of ’n hees kerkklok op die platteland
wat op ’n Sondagaand almal terugroep.
-IV-
Vir jou sal ek net altyd ’n sagte vers skryf.
So sag soos die vlerk van ’n fladderende vlinder.
Oopgevou, soos ’n digter iewers skryf, met ’n boodskap
van hoop.
uit: Ruggespraak. (uitg. Protea, Pretoria, 2002)
© 2002
Joan Hambidge / De Gekooide Roos