Sandra Nortje Paulus
Ek wens daar was vandag koek in die huis. En ek wens ek kon beter klou aan die tyd, want ek weet nooit of dit Vrydag of Maandag is nie, of Maart of November. En ek wens dat ek beter na ander kon luister. Maar hierdie storie is Paulus s‘n, nie myne nie. Of miskien is dit tog ook myne, omdat ek so skuldig voel.
Om dit regtig sy storie te kon maak, sou ek sy woorde presies moes kon herhaal- maar dit kan ek nie, daarvoor is sy wêreld veels te ver van myne af, al deel ons hierdie besoedelde lug van ’n hoogs industriële steenkoolstad. Ek sou baie graag wou weet hoe ver hierdie wêreld waarin Paulus nou met moeite oorleef (as ek so na die tekens kyk) verwyder is van die een waarin hy in 1958 gebore is, op 14 November 1958 gebore is, volgens hom.
Dis laat Saterdagmiddag en die honde blaf en kort daarna hoor ek die klop aan die kombuisvenster, en ek weet, Paulus is weer hier. Vroeër, kort nadat ek hier ingetrek het, en toe Paulus nog ’n goeie vyf kilogram meer geweeg het as nou, al was hy toe al maer, het ek hom soms my kar laat was. So kom hy nou nog week vir week hier aan met ’n groot, leë tien liter verf-emmer met die laaste reste van groen verf daaraan, ’n paar ou stukke lap daarin, en iets van karsjampoe soms- sy tools of the trade. Vir ’n paar weke het hy ook al ’n fiets gehad, en in dié tyd was daar selfs sprake van ’n soort spazawinkeltjie1 wat sy vrou sou bestuur. Maar iets het met sy welvaart verkeerd geloop. Die winkel is toe, die fiets is weg, en Paulus is weer te voet.
Nou, dis juis hierdie lappe van Paulus waarmee die probleme tussen ons ontstaan het, en wat ons twee se werksverhouding beëindig het. Paulus krap mens se kar en hy wil nie hoor nie- hy volhard met die gebruik van sy eie sanderige lappe, al gee ek ook vir hom my eie splinternuwe geel of blou of turkoois fancy lappe. En wie nie hoor nie moet dan maar voel, het my ouma gesê. Nou mag Paulus nie meer my kar was nie, maar hy mag nog kom koffie vra. Koffie en miskien iets te ete, en so sien en hoor ek weekliks vanuit my kombuisvenster dié Afrika wat ’n krisis beleef.
Soms kom wys hy vir my ’n verband om sy arm, amper soos ’n kind wat ’n tand getrek het en nou iets van die tandmuis verwag. Soms is ek die tandmuis en soms nie – mens het maar jou eie buie wat jou deur jou dae dryf. Maar ek weet lankal dat ek moet mooi loop as dit by Paulus en buie kom, want ek gaan spyt wees; Paulus is kwesbaar. Hy beloof om die geld terug te bring: hy sal Vrydag as dìt gebeur het, of Maandag as dàt gebeur het, of volgende week kom betaal. En soms laat ek hom beloof en soms maak ek hom maar stil.
Vanmiddag se klop kom weer met ’n storie saam: ” Iesjjj....daardie kind van my hy maak hom so –ie –ie”, vertel hy. “Hoe oud is die kind, Paulus?” vra ek, in die haastige hoop dat daar iewers medisyne in die kas kan wees wat kan help, sodat ek nie aan my beursie hoef te raak nie en dat ek so gou moontlik weer kan gaan werk. Intussen kook die water al en staan die beker wat weekliks heen en weer deur die vensterraam beweeg al reg met sy koffie. Ek onthou net betyds dat daar min suiker moet in, want van onlangs af wil Paulus nie meer baie suiker in sy koffie nie. Suikersiekte, dink ek, het hy vertel.
Hy lyk effens verontwaardig oor my vraag, maar stralender en meer vrygewig met persoonlike inligting as gewoonlik gaan hy voort, en ek kan sien hy vergewe my die dom vraag. Dis die kleintjie, vertel hy. “Hoe klein?” vra ek. “Ouer as ’n jaar?” Weer sy totale verbasing. Nee, die een wat nog nie ’n jaar is nie. En nou, terwyl ek hierdie skryf besef ek, die kind is nie net nie ’n jaar oud nie, sy is net enkele weke oud, en nou voel alles vir my net nog erger. Hoe kon ek dit nie sien nie, ek het tog geweet sy vrou was in die hospitaal.
Hy was twee of drie weke gelede hier om te vertel dat sy hospitaal toe is. En natuurlik, hospitale kos geld, selfs staatshospitale, selfs staatshospitale vir mense met onbehandelbare langtermyn siektetoestande. Die keer het hy nagklere kom soek, nie geld nie. Dis nou die vrou wat so erg drink, wat al weggeloop het, en wat na sy mening nie na die kinders kan kyk nie. Toe het ek verstaan dat hy vertel dat sy in Wolwekrans is en dat sy siek is, maar dit was dan skynbaar effens anders. Ek gee toe die nagklere want ek ken Wolwekrans se stories, en ek het nie gedink dat sy daar gaan uitkom nie, en Paulus is ook al so maer. Maar nou is sy weer by die huis, sy en die nuwe baba. Die een wat so ie–ie huil.
Paulus se gesig, waardeur ek sy skedel al hoe meer kan sien, bly stralend. Die ander drie is al drie seuns, vertel hy. Hierdie is ’n ou dogtertjie. “Ek wou gaan koek koop, want ek het verjaar hom die fourteen November,” vertel hy. “Maar toe kon ek nie, en toe sy kom die baby. Want sy is van die ten November en ek van die fourteen November. Die anner hulle is almal van March. Maar hierdie een is van November. My birthday present.” En hy lag sy hoeserige laggie en ek hoor die slym in sy longe. En die wit speekselrand om sy mond lyk, soos altyd, sò droog.
En nou sit ek hier en my hart is seer, want ek het nie eers vriendelik geluk gesê oor die nuwe baba nie. Nie hieroor of daaroor nie, maar net omdat ek nooit mooi die verskil ken tussen March en November nie. En ook omdat ek so ’n swak huisvrou is dat daar in elk geval nie koek in die huis was om vir hom te gee nie.
1 spazawinkeltjie: winkel op eie terrein wat noodsaaklike lewensmiddele verkoop

Over Sandra Nortje

Sandra Nortje woont in Onrusrivier (Zuid Afrika) en verdient haar brood als vertaler en soms nog als apotheker. De afgelopen jaren heeft zij gedichten en korte verhalen geschreven. Verschillende van haar gedichten zijn in een aantal Internet-tijdschriften gepubliceerd en een van haar korte verhalen is onlangs in de bundel Vonkfiksie verschenen. In de dichtbundel As die son kom oogknip (verschenen naar aanleiding van de zonsverduistering eind 2002) is een gedicht van haar opgenomen.
Sandra Nortje was vanaf het begin redacteur van De Gekooide Roos.
Sandra Nortje schreef ook op Schrijf.Net