Vampiere in Malawi, berig die koerant.
Die president reik selfs ’n verklaring uit:
“Wys my ’n vampier, dan stop ons hom in die tronk.”
Maar wie behoef bewyse, as die lyke daar is?
’n Meisie van so agttien, léég gesuig en styf
soos ’n stok, twee slagmerke in haar nek;
haar hande onnatuurlik groot en benerig
rus soos valkvlerke op haar wydogige borste.
En die hoofman se seun in sy kruis geknak
teen ’n ploegskaar, toe niemand gekyk het nie –
bene wat invou óm die uier van sy fallus,
en nie ’n druppel bloed oor in die res van sy lyf nie!
Drie weermagjeeps van Lilongwe haas dié kant toe
na ’n dorp, nog drie sóóntoe na ’n noodgebied:
om wag te hou in die nagte, maar tevergeefs.
Die vampiere sluip deur, altyd nog ’n lyk in die môre;
soms nie eers merke nie, net ’n pubis wat bult
soos nuwe piesangs; of ’n buik wat staan soos ’n dier se skrik.
“Waar is die lyke?” vra die rondgaande kommesaris.
“Hulle word onmiddellik begrawe, as beswering,”
fluister die priester en kriskras sy bors.
Die soldate bevestig dit; van hulle sterf ook,
een het so op sy stewels ineengesak,
arms om sy R1 gevleg soos ’n wingerdstok
of ’n slang, om die Hermesstaf van die geneeskunde.
Selfs die VN se VIGS-kliniek word oornag ’n teiken.
“Dit slaap in my bloed, die vol lengte van my lyf!”
sê een, om deure te grendel of toe te spyker
help ook nie, die vampiere loop deur mure.
Vampiere: sommige sonder tande, met spuitnaalde;
hulle trek bloed en loop weg daarmee in sakkies.
Die mense aanvaar dit al, sê die hulpwerker;
sien selfs uit daarna, met ’n groeiende begeerte.
Snags land sy op my dak en hurk daar naak, sê ’n man;
van onder af sien ek die tiervelbeursie
in haar mik, déúr die sink ...
“Sy wag haar oomblik af en ek wag vir haar.”
’n Kerkhoffie met kerse flakker soos ’n verjaardagkoek.
’n Troue, maar net een staan voor die kansel:
’n visgraat van ’n meisie wat smoorverlief is
op háár vampier, ’n bruidegom in absentia.
Al hoe meer lanterns dwaal sonder mense,
’n stat het net ’n hond, maar iémand voer hom snags.
Fluisterings dryf: “kan nie wag nie” en “waarom môre …”
terwyl jonges glimmend dans in ’n dorpsaal
soos maskers op stokke in ’n ou, ou karnaval.
En soos in verre noorderstreke
waar die mense lang seisoene van donkerte ingaan,
gaan die lewe voort,
in die ryk van die skimme.
Gedurende 2003 het verskeie berigte in Suid-Afrikaanse koerante verskyn oor gemeenskappe in Malawi
wat beweer dat hulle deur vampiere aangeval word. Die volgende het opgeval: een van die teikens
was ’n Vigs-hulpkliniek van die VN. Verder het die vampiere se modus operandi in sommige gevalle ooreengekom
met die van mediese personeel: hulle sou “met spuitnaalde bloed trek uit hul slagoffers”, en
daarmee “wegloop in “sakkies”.
© 2003
Charl-Pierre Naudé / De Gekooide Roos