Ons bediende was deel van ons huis se roetine.
Al eet Sara uit ’n blikbord met ’n gebuigde lepel,
moes ons haar met respek behandel. In haar kamertjie
staan haar wankelrige enkelbed op hoë bakstene
(“om die tokkelossie weg te hou, Nonnatjie”);
teen die muur ’n foto van ’n swartman uit Bona.
Smiddae wanneer sy klaar gewerk het vir byna niks,
kyk ek verwonderd toe hoe sy haar hare uitkam:
vir vanaand se jive in die lokasie naby Silverton.
Sy was haarself met Lifebuoy uit ’n klein skotteltjie
en gebruik koerantpapier by haar oop toilet.
Oor die klein radio’tjie hoor ek die penniefluit
en saans wanneer ma-hulle uitgaan, haar groot-groot lag.
Op daardie keer toe ma-hulle weg was om huis te soek
en ek en AnderSus sien hoe ’n kind in ’n ongeluk sterf,
hou Sara, ons Mama, my die hele nag teen haar bors vas
(“Tula, Baba, Tula Tula Baba, Tula Baba, Tula Tula Baba”)
in my eerste kennismaking met die dood se reuk en klank.
© 2005
Joan Hambidge / De Gekooide Roos