Tussen vyf en sewe vanoggend
lê ek in die bed net duskant die kanaal van slaap.
Verknog aan hierdie landstreek met niks meer as gedagtes nie
draai ek terug stroom-op na donker drome.
Toe die skielike weersverandering. Waansinnig wind.
Wat voorheen verslons en afgetakel soos ’n ou vrou was,
iets verstaanbaar, swel uitmekaar en word onherkenbaar. Iets totaal onbeheers.
Opgestaan en heeldag sit en kyk hoe die reën teen die ruite val
het dit nie nodig nie, die grasdak se grys gedrup op hierdie dag
met al my krag besweer ek die gure weer, stuur dit kuslangs
na ’n groot rivier waarvan ek weet. ’n Gryse rivier
bestand teen gure weer. Wat traak dit my as die rivier moet vlug
weg van die see, dieper na die binneland, om binne ’n paar dae sy weg terug te vind.
’n Vrou wat gewoon na reën kyk, kan altyd ’n boek optel om te lees
van ’n plek waar daar nooit reën val nie – ek het deur uitgebreide
ergs gereis, skryf Lhote. ’n Vrou wat na die reën kyk
kan saam die veerligte netwerk van droë Sahara riviere volg
tot by Ténéré waar skulpe, visbeendere, gefrommelde visnette
en manjifieke harpoene gevind kan word.
In die Guezzam se hidrografiese sisteem, lees ek
is daar dromende swemmers teen die kranse
sonder wapens of strategie
afgesny van hul eie skaduwees
gly hul op die rivier se bodem
en ek kyk weg van die see, altyd berg se kant toe.
© 2005
Melanie Grobler / De Gekooide Roos