We change the world by observing - sugar ray
Die stertkant van die droom is al wat sy kon onthou toe sy wakker word. Die
mans uit die hede en verlede so saam om die kontrak, met ’n afgeskeurde
stukkie papier en ’n persoonlike ooreenkoms vasgekram aan die netjies
getikte dokument. Nouja, toe is sy wakker. Vir die tweede keer. Die eerste
keer het sy gou ’n briefie en ’n impro’tjie kom skryf:
dit was nie die flamenco nie
mevrou jones, geelrooi sou nie
deug nie - nee, dit was tiekiedraai
die linne niks maar fancy blou nie
Eienaardig hoe die beelde mekaar oproep. Sy hoor die mossies buite toe sy weer
gaan lê en dink daaraan dat ’n vriend haar vertel het hoe die
kommunikasie tussen die gevleueldes plaasvind. Wel, vanoggend praat hulle met
haar ook. Beeldsgewys.
“Kom, kom” sê Adriaan. “Ons moet gou maak ek wil reg voor
sit.”
“Hoekom?” vra sy nogal verbaas oor hierdie skielike dringendheid.
“Marilyn gaan vir ons go-go dancing doen. Ek sit héél voor”
Héél voor. Go-go dancing. ’n Christelike universiteitskoshuis waar daar
nie gedans mag word nie.
So be it. Dan sit hulle maar heel voor. Sy glimlag en stap agter hom die saal
in. Na die openingsplegtigheid, wat toe ook nie so plegtig was nie, was maar
’n koshuisfunksie, word die vermaak toe aangebied.
Die koshuisvader, ’n stoere omie met ’n al groter wordende bles,
sit teen die muur op ’n ongemaklike regop stoeltjie. Andersinds sit
almal op die matrasse wat ingesleep is. Op die make-shift verhogie kom Marilyn
te staan. Vreemd dat sy onthou hoe sy raakgesien het dat dié by haar kort mini
sykouse aangehad het. En sy het die kleur herken- donker, maar nie swart nie,
blackmail. Fyn-blink in die lig. ..laced with diamonds dear for you...nee,
eerder...and all the venom snipers after you..swoop swoop rock rock. Maar dan
weer ook nie.
Die musiek begin; dit was die vroeë sewentigs. Dit was nie Sweet Caroline nie,
nee, wat was dit nou weer? Dit sal haar later byval. Aahh. Geweet dit moet
’n C- wees. Cecilia. Die ligte word afgeskakel en die dans begin.
’n Enkele ultravioletlig op die danseres is al wat daar is, maar dit is
meer as genoeg. Sy is duidelik te sien, maar die klein wit driehoekie van haar
broekie skitter deur alles heen. Harde musiek en absolute stilte, so saam in
een vertrek aanwesig. Nogal iets.
Skielik bulder die koshuisvader se stem: “Sit aan die lig!”
‘n Geskarrel en die neonlig gaan dadelik aan en Marilyn dans oënskynlik
ongesteurd in helder daglig verder. Dertig sekondes later weerklink die weer:
“Sit af die lig!”
So tussen die duiwel en die diepblou see. Arme man.
Twee weke later weet almal dat Marilyn mag kom eksamen skryf, sy is immers in
haar vierde jaar, maar dat sy geskors is van die universiteit. Die
huiskomitee, wat die geleentheid gereël het, het glo voor die rektor getuig
dat hulle geen idee gehad het nie. Dat hulle haar gevra het om ’n dans
te doen wat by die geleentheid pas. Hulle het miskien gedink ballet of so. Agt
groot mans, oorwegend regstudente. Ook finale jaars, meestal.
Maande later, toe sy Bertus leer ken het, kon hulle so lekker gesels. Redeneer
oor alles en nog wat. Nuwe onderwerpe en oues soos die hoender en die eier.
Die pen en die swaard. En die Marilyn insident het ook nog by haar gespook. Hy
was ook in daardie koshuis, maar hy was die aand nie eers teenwoordig nie, sê
hy. En hy was ook nie op die huiskom nie. Dus - onskuldig. Betreklike onskuld
- is dit ’n regsterm?
En gister het hulle egskeiding gepraat. Seer all round. Meer as net gepraat.
Onderhandel. Haar lot is in sy hande, maar gelukkig- the anger runs out.
Huwelik onherstelbaar. Vrou is emosioneel onstabiel.
“Jy het tog gesê ons kan dit sê? Dit is tog so?” Sy selfoon lui.
“Ek is nou daar. Sê hulle moet wag, ek kom teken”. Hy maak
verskoning; ’n belangrike kontrak. Hy moet gaan.
O ja, en gister was daar ook nog die gediggie van Alex se vriend oor die ander
helfte se sonsverduistering:
zonsverduistering (impro)
uit dit grijs licht wordt dromenspel geweven
de buurt staat als goede vrienden rond elkaar,
brillen worden hulpvaardig doorgegeven
brillen worden hulpvaardig doorgegeven
zonsverduistering is ’n gedig van
Gerard Dupree
© 1999
Sandra Nortje / De Gekooide Roos