(’n verwerking van ’n vorige vers)
die vrou loop in strate
die vrou van die negentigerjare
droom van ’n ruisende koringveld
waaruit van gogh se leeurik vlieg
die vrou loop wapperend in foschini-gewaad
sy lyk jonk met yardley en medi-shape
met die geure van la petit parfumerie
sy lag en soek na haar millenniman
haar oë droom van vreemde reise
starlight cruises na ’n paradys
haar oë vrees die boosdoener
die bomme die kaper die verkragter
die diefstal die leuens en bedrog
die wurg van ’n keel die snit van ’n mes
die onverwagse skoot van die dood
maar haar mond bly die vreugde
van ’n bloeiende kastaiingboom
sy pas ook sonbrille op in apteke
sy drink ook coke voor shoprite
sy dans en sing ook soms alleen
sy eet ook roomkoek om middernag
en luister bang na die voetstap
van reën om die huis
haar arms omhels pakkies met sandale
met bloesies met rokke en jasse
sy is net so alledaags soos alle
ander vroue van negentig
selfs al is haar lyf ’n geel vlinder
oor die amandeltakke van sypaadjies
selfs al is daar swart kraaie
in die geheimenis van haar hart
die vrou loop in strate
en die wind vat vlam in haar hare
© 2000
Marlise Joubert / De Gekooide Roos