Toe het ek verleë
in die slaap gaan skuil
jou boek nog halfpad oop
in die voue van
die oesterpienk kombers
en toe ek uit die droom weer skuif
vra ek benoud: maar wie is jy?
want vat ek hier
dan spring jy daar
jou hare perdkopkuif
verstringel in ‘n ander taal
en gryp ek aan jou oor
dan hop jy winkelhaak
en kwes jou stert
my mond se binnenaak
inderdaad, dink ek terug in my oë:
jy het kennis van elke spelfaset!
elke woord keurig ingevoeg
om die perfekte vers te bed
maar wie is jy?
ek kon jou nêrens
tussen al die stukke kry
selfs die foto is geheim in skaduwee
en maak gereed vir nog ‘n skuif
‘n glimlag van oorwinning: vang my nou!
ek bêre nog die laaste spel
wat glo sonwaarts trek
ek hoop dat deur die lenteklank
van duisend voëltjies in my boom
ek wel die strale sal sien flits
en alles ongeheim sal flank
want sien, jy het die mat
so vinnig uitgeruk
en toe, terwyl ek glad van droom
gaan staan en wonder
hoe lyk jou kasteel se binnevou
en waar kruip die koning weg
het jy my mat gesit en gesê:
ek het jou, skone vrou!
© 1999
Marlise Joubert / De Gekooide Roos