Sandra Nortje Een oggend in Oktober
Ek word stadig wakker en onthou slaperig — ‘n verskeidenheid vakansies is op hande; verskillende mense se vakansies. En ek hoor my immer teenwoordige shrink se stem: “..as we knew it would happen?” Met die glimlag wat daarby pas.
Die wind waai onaangenaam buite, maar daar ver tussen die huise deur sien ek ’n soort pienkerige horison. Mooi, maar stowwerig. Vroegoggend se helder koue blou lug was heelwat mooier. Dis noual Oktober, en Augustus se winde waai nou eers. Miskien was die ou mense verkeerd, miskien hoort hierdie winde in Oktober; dit is tog nou dat ons die reën wil hê, is dit nie? En as dit reën het ek goeie rede om sop te maak of vir hom pannekoek te bak - die kind van my by wie ek drie jaar gesteel het. En hulle sê altyd tyd is geld- hoe op gods aarde betaal ek my kind vir hierdie drie jaar? Met pannekoek op ’n reënerige dag? ’Seblief.
daar hang vanaand
’n pannekoek maan
tussen hier
en Ispahaan
heelwat eiergeel
ruik jy die kaneel?
Kaneel? Miskien, maar meer as net kaneel. Die geur van ’n verskeidenheid speserye hang in die winkel. ’n Oosterse winkel in ’n westerse stad. Ek dink dit was toe Parys. Ja, dit was Parys. Aan die onderkant van ’n trap. En aan die bopunt- ’n park as ek reg onthou.
Zo gaat het, zo ging het en zo zal het altijd gaan.
Parken te nat, hotels te vol, Parijs te ver.
Liefde als een veelvoud van vergissingen.
En ons wás in Parys. Meer as eenkeer.
In elk geval, ek staan daar in die winkeltjie met sy mandjies vol droë vrugte en vreemde meelsoorte in sakke en sade in goiingsakke. Van die dak af hang allerhande dinge. Blink goeters en ballonne en kunsblomme, maar op die grond staan die kos van die aarde. Neute en grondbone en piesangs en lemoene. En iewers moet al die speserye wees, want ek ruik dit.
Toé het ek dit natuurlik nie gedoen nie, maar vanoggend het ek wel. Ek het op my knieë langs een so ’n sak met bone in gaan staan. Ek dink dit was die pienkerige gespikkelde bone waarvan mens sop kook, en ek het my hande daar tussen die bone ingedruk en so die gladde rondheid daarvan ervaar. Na ’n lang, lang ruk het ek stadig opgestaan, my hande so bakgemaak.
So staan ek toe daar en kyk hoe die sade een vir een van my hande afgly. Sommiges beland weer in die sak, ander val op die vloer om my voete en nog ander, nie so baie nie, maar genoeg- bly so stil in my hande lê. Dalk doen ek iets daarmee, wie weet, maar sopmaak sal dit nie wees nie.

Over Sandra Nortje

Sandra Nortje woont in Onrusrivier (Zuid Afrika) en verdient haar brood als vertaler en soms nog als apotheker. De afgelopen jaren heeft zij gedichten en korte verhalen geschreven. Verschillende van haar gedichten zijn in een aantal Internet-tijdschriften gepubliceerd en een van haar korte verhalen is onlangs in de bundel Vonkfiksie verschenen. In de dichtbundel As die son kom oogknip (verschenen naar aanleiding van de zonsverduistering eind 2002) is een gedicht van haar opgenomen.
Sandra Nortje was vanaf het begin redacteur van De Gekooide Roos.
Sandra Nortje schreef ook op Schrijf.Net