Lot se vrou het, teen ’n verbod in, agtertoe gekyk, en het tot soutpilaar verstar. Maar wie sê
dat vorentoe kyk nie ook tot verstarring kan lei nie?
’n Leeftyd lank het ek my teen oordrewe nostalgie na die verlede en
oordrewe geesdrif oor die toekoms probeer beskerm.
Die huidige oomblik - die enigste oomblik waarvan’n mens enigsins seker kan
wees - het’n sentrale plek in my lewe ingeneem. Carpe diem, het ek telkens vir myself gesê; pluk
die dag, of soos Pallieter van Timmermans gesê het: Melk die dag. Toe ek’n titel vir my eerste
versameling aforismes gesoek het, het ek onvermydelik besluit op Pluk die dag.
Nou is aforismes juis die uitkristallisering van’n belewenis wat ágter jou
lê. Die verlede - en vyf minute gelede is al klaar geskiedenis - dring voortdurend by jou
oombliklikheid in. Hede is onvermydelik ook’n soort verlede. In dieselfde asem moet gesê word
dat die hede deur toekomsvrese en -vooruitsigte besoedel word. Hede is dus ewe seer’n soort
toekoms. Oombliklikheid, moet ek al hoe meer toegee, is bloot’n illusie, selfs’n hallusinasie.
Die tradisionele tydskonsepte, soos by ons ingeprent deur skoolgrammatikas
- verlede tyd, teenwoordige tyd, toekomende tyd - het uiteindelik meer met emosionele tyd te
maak as met grammatikale konstruksies. Nou, met nog’n eeuwending op hande, sou selfs van
kosmiese tyd gepraat kon word, só raak die planeet in sy eie tye en getye verstrengel.
Kan die vorige eeuwending, die sogenaamde fin de siècle, ons iets leer
omtrent die nuwe eeu-kentering?
Wat ek van die vorige fin de siècle weet, aangestig deur my
Kabaretnavorsing, stem’n mens nie ooroptimisties nie.
Die fin de siècle is, sy Franse naam ten spyt, in wese’n Weense
ontploffing. Dink aan Sigmund Freud wat ons wêreld- en selfbeeld vir altyd verander het; dink
aan Arthur Schnitzler, skrywer en dramaturg, wat seks en tragiek weergaloos gepaar het. (En
niemand kan hom verkeerd bewys nie, soos die rolprent With eyes wide shut van onlangs maar alte
duidelik uitwys.)
Die bankrotskap van ons Westerse bestel word opgeroep deur fin-de-siècle
geskrifte soos die volgende: Die laatste dae van die mensheid deur Karl Kraus; Onbehae in die
kultuur deur Sigmund Freud; Die man sonder eienskappe van Robert Musil; Die wêreld van gister
van Stefan Zweig; Die ondergang van die Aandland van Oswald Spengler.
Gemelde skrywers kan helaas nie als doemprofete afgeskryf word nie. Die
twintigste eeu het twee verwoestende Wêreldoorloë beleef, en wat ook verwoes is, is optimisme.
En hiermee saam geloof. Vir altyd, soos dit lyk.
Die twintigste eeu het mensuitwisseling op ongehoorde skaal beleef. Die
uitwisseling van Russe op bevel van Stalin; die uitwisseling van Jode, sigeuners, anti-fasciste
en homoseksuele op bevel van Adolf Hitler. En die Serwië-Bosnië-tragedie het hom nog lank nie
uitgewoed nie.
Daar was ook werklike ontploffings, bepland en onbepland: Hirosjima en
Chernobyl.
Suurreën tas die woude van Europa aan. As ek één plakkaat moet oordra na
die volgende eeu, sal dit’n omslag van Time Magazine wees, wat’n boom voorstel wat in’n doodskis
lê. Die natuur, voedingsbron van die Romantici en van alle mense wat nie hul aard en aarde wil
verbeur nie, gaan dalk deur die mense self verwoes word, uit hebsug en onnoselheid.
Want die mens het helaas nie die morele krag om “die vinding van sy brein”,
byvoorbeeld sy tegnologiese prestasies, te beheer nie, en daarom kan Jorik van Opperman wrang
bid:
Wens dat kindjie groter was
om al dié diertjies op te pas.
“diertjies” van die walvis tot die renoster, word bedreig nie, maar lewe als
sodanig. Voortbestaan op die planeet.
Dié eeu het ook baie gebring wat die mensdom tot seën is, veral op mediese
gebied. Die groot verskrikkinge van die neëntiende eeu, tering en sifilis, kan nou bestry word.
Maar inmiddels het VIGS gekom.
Die werker het sy demokratiese reg met rewolusies, maar ook deur ewolusie
verkry. Die aristokrasie as politieke begrip bestaan nie meer nie, maar helaas word ook
aristokrasie van gees verdoem deur’n ideologie soos Kommunisme. Jy sal nie meer besit as jou
naaste nie, sê dié ideologie; maar die donker subteks van dié ideologie, so het die Kulturele
Rewolusie in China bewys, is die volgende: Jy sal ook nie meer weet as jou naaste nie.
Reeds sit die mensdom gevange binne’n funeste “afwaartse spiraal”, en dis
juis oor dié bedrukkende fenomeen dat ek in my gelyknamige kabaretlied skryf:
Dié afwaartse spiraal
gaan jou geen Bach besorg nie.
Dié afwaartse spiraal
kan nooit ’n Rembrandt borg nie.
Of Michelangelo.
Of Shakespeare en die res.
En hieruit volg - dit moet jul glo -
die oudste aardse sedeles:
Die mensdom raak al dommer
en menslikheid al stommer
na oorlog en geweld
En weer waarsku en voorspel kunstenaars katastrofes, soos onder meer J.M.
Coetzee in sy millennium-roman Disgrace; en weer sal mense net maar hul skouers optrek, wat
bewys hóé ver ons eeu buite die grasie van Ewige Waardes lê.
© 2000
Hennie Aucamp / De Gekooide Roos